In Loving Memories of

Johan (Dup) Du Plessis
22 Apr 1970 – 27 Sept 2023
Biography
Johan du Plessis Ek kan my goed verbeel dat dit ‘n pragtige vroeë herfsdag was toe Dup gebore is op 22 April 1970 in die Kallie de Haas Hospitaal in Potchefstroom. Rustig, sonder omhaal, die wêreld ingekom om elke mens met wie hy in aanraking kom se lewe aan te raak. Dup se geborgenheid vind hy in die skoot van Ouma Hester van der Merwe. Toe hy sy skoolloopbaan op Ventersdorp begin, was hy erg ontsteld om as ‘n Du Plessis geken te word, want hy is ‘n Van der Merwe (het hy aangedring)!! Iewers met die oorgang van Laerskool na Hoërskool, maak sy lewe ‘n draai saam met Ma Nora op Brakpan, by Laerskool Stofberg. Groot was die vreugde toe Dup terug is op Ventersdorp. Dup was ons neef se groot maatjie, en dit was juis hierdie vriendskap wat hom in Pieka (Marina) na mekaar gelei het. Hulle ontmoet in ons Tan se huis toe hy Standerd 7 is en sy Standerd 9.
Op hierdie stadium is hy net Seunie se maatjie, en sy is vir hom net Seunie se niggie… In 1988 Matrikuleer Dup op Ventersdorp, en in die era gaan almal nog “army” toe na skool! Skaars land hy by die weermagbasis te Jan Kempdorp, of die Nasionale Intelligensiediens raap hom op, en ‘n opwindende tydperk begin in Pretoria. Dit was dan in 1990 wat hy en Pieka mekaar weer raakloop, en hierdie keer is die vriendskap nie platonies nie!! Die liefde blom, en so baie van ons vriende bou ons vreugdes en kuiers op hulle verhouding en huis! Ons kuier en baljaar nagte om, en op ‘n stadium woon ons in ‘n kommune.
Dit was in hierdie huis waar ons een laat aand tuis kom na ‘n kuier by Pirates Cove, en Dup ons vermaak deur in Marina se trourok in die gang af te kom!! Hy het homself nooit vreeslik ernstig opgeneem nie! Marina en Dup trou op 5 Januarie 1991, en die hittegolf wat die land op daardie dag tref, laat Vryburg kook. Tot vandag gesels ons oor die drie-gang troue. Eers die troue by Tierkloof se kerk, toe die ete by die Kerksaal met al die formaliteite, en daarna die “party” by die rally-klub se saal tot die son opkom!! Marina en Dup verloor twee babas voordat hulle geseën word met Bianca. Ongelukkig word ons Pa met kanker gediagnoseer net na hul troue, en besluit hulle om hul op Vryburg te kom vestig. My Pa verloor sy stryd in Desember 1992. Dit was vir ons hele familie ‘n seer seer. My Pa was vir Dup en Wimpie ‘n eie Pa. Tot in 1994 doen Dup wat sy hand vind om te doen. Groot is die vreugde toe Bianca op 10 Mei 1996 gebore word.
Op hierdie stadium werk Dup by Papiesvlakte as Meulenaar. Hy kwalifiseer ook as meulenaar. Dit was ‘n vreugdevolle tyd. Ivan word gebore op 26 September 1997. Ons twee susters het vier kinders in die twee jaar. Dup is ‘n pa vir al vier!! Daar is vir hom geen onderskeid nie. Hy bederf en foeter al vier ewe veel. Iewers gedurende die gyl tyd op Papiesvlakte besluit die gesin om saam met die Olivier’s groener weivelde te gaan soek op Orania. Grootliks omdat Bianca nou amper groot skool toe moet gaan. Erika se geboorte op 25 Februarie 2002 is ‘n baie groot verrassing! Onbepland, maar bitter geliefd! Ons almal geniet die nuwe baba ewe veel, en dit is hartseer toe die groot trek na Orania uiteindelik aan die einde van 2002 aanbreek. Bianca reg vir skool, Ivan kort op haar hake, en Eri nog in die doeke! ‘n Baie insiggewende, interessante en gebeurtenisvolle twee jaar volg in die Noordkaap.
En soos Dup en Marina altyd spottenderwys gesels, was Orania vir hulle soos die Tuin van Eden. Hulle het kaal daar uit gestap! Maar Dup was ‘n man wie se planne nooit opgeraak het nie. Die gesin vestig hul op ‘n plaas buite Stella waar hulle die volgende 2 jaar woon. Dup maak vinnig weer ‘n draai by Papiesvlakte, maar bevind hom kort daarna in die spekulasie besigheid waar hy vee koop en verkoop. In 2006 trek die gesin na Lichtenburg. Hier woon en werk hy tot in 2008, wanneer ‘n skoolvriend vir hom ‘n geleentheid bied om in Botswana te gaan werk. Die gesin vestig hulle vir die volgende 2 jaar in Maun, en beleef ‘n ware Afrika ervaring! Dup geniet hierdie sorgelose dae terdee. In 2010 hervestig Marina en die kinders weer in Lichtenburg, waar die kinders nou in die Hoërskool is.
Hy kom kuier heel gereeld, en die kinders kan nooit wag om hom te sien nie. Die verlange en afstand blyk gou te veel te wees, en in 2012 trek Dup terug na Lichtenburg. Dup begin by Montenegro werk op Lichtenburg en kwalifiseer as Dieselwerktuigkundige. Sommer gou loop sy naam hom vooruit, en word hy deur die plaaslike CASE agentskap opgeraap in 2016. Die volgende drie jaar slyp hom in die bedryf. En met jare se kennis, liefde en passie vir sy werk en mense, begin hy en sy kollega ‘n onderneming, wat vir hom baie vreugde bring! Hy is trots en energiek, en die besigheid is baie suksesvol. Sommer heel vroeg kry hul ‘n derde vennoot, en hulle groei van krag tot krag.
Dit was met die fees, toe ons Ivan en Radi se 21ste Verjaarsdae vier die September van 2018, dat ons die baie slegte nuus kry van Wimpie se dood. Trou aan sy aard ondersteun Dup my kinders, en vind hulle raad en bemoediging by hom. Geen hartseer het sy empatieke aard ontgaan nie. Bianca trou op 24 September 2021, en Dup is dadelik vir Armand ook ‘n pa! Willem-Piet en Inge trou in 2022, en almal sien vreeslik uit na Marnie se geboorte in Februarie 2024. Dup onderneem baie plegtig dat hy vir Inge sigarette en ‘n “dop” sal bring in die hospitaal na Marnie se geboorte, omdat sy so baie moes ontbeer tydens die swangerskap! Hy sou nooit die dag met ons deel in die vlees nie. Dup se liefde en toewyding aan familie, en vriende maak hom onvervangbaar.
Hy mis nie ‘n familie reunie met die Van der Merwe’s nie, en geniet ‘n vakansie met Edna en Henry so baie ‘n jaar of wat voor sy dood. Ek dink nie ek het hom ooit hoor sleg praat van enige mens nie, maar ek het hom wel baie hoor raas wanneer een van ons dit sou waag! September was altyd vir ons almal ‘n jolige maand omdat beide Ivan en Radi verjaar. Na Wimpie se dood, kry die maand so bietjie van ‘n grysheid… Dit was egter die September van 2023 wat ons wêrelde kom omdop het. Ivan het ‘n partytjie gereël by Dup se gunsteling plek op hierdie aarde – Bokkraal. En juis terwille van die partytjie daardie naweek, het ons daardie Dinsdag aand van Ivan se verjaarsdag, ‘n heel rustige aand gehad. Die partytjie sou mos die naweek gebeur…
Niemand van ons sou ooit weer die nag van 27 September uit ons menswees kon wis nie. Die skielike, onvoorsiene, onvoorspelbare, onnodige van daardie nag… Dup se lewe eindig net soos hy geleef het. Sonder drama, sonder moeite, sommer net so. Maar vir ons wat agter bly, sy Maraai, sy kinders, ons almal vir wie hy goed was, ons almal onthou hom, en verlang na hom, en hou hom lewendig in ons gesels en dink en verlang. En aan die end van dit alles, weet ek dat Dup se nederige geloof hom ‘n geliefde Kind maak van ons Vader, en het ons vrede dat hy ons vooruit gegaan het. Jou Suster deur keuse.
Media
Stories

’n Lewe in 7884 Dae
Pappa Dup. 7884 dae. Dit is hoeveel dae ek en pappa in mekaar se lewens was. Tussen die 7884 dae kan ek nie in ‘n skryfstuk regtig alles opsom wat gebeur en gevoel was in ons lewens nie want daar is so baie. Ek het dit goed gedink om van die goed wat ek nooit vir pappa gesê het nie hier op te sê. Selfs al is dit goed wat na die tyd gebeur het. Klomp random goed wat ek so duidelik en helder onthou en wat ek glo ek vir ewig saam met my sal dra. Daar was ‘n dag wat ek en pappa die sonsak op Bokkraal gekyk het.
Ek het aanhoudend gesê dat ek op daai oomblik dink dit is die mooiste wat die sonsak gaan wees, in hierdie minuut en nou op hierdie oomblik. Nou. En pappa het elke keer kalm geantwoord, “Wag net nog so bietjie, dit word nog mooier.” En elke bietjie wat ons nog gesit het, het dit mooier geword totdat ons die sterre kon sien. Hierdie is ‘n oomblik wat ek elke dag saam my dra. Dit is ‘n deel van my wat soms my enigste hoop in ‘n dag is, waar ek net moet dink aan daardie woorde om my deur ‘n dag te bring.
Dat ek net nog ‘n klein bietjie geduldig moet wees want daardie oomblik wat ek dink ek is vas of in ‘n hoek gedruk hoor ek pappa se stem daai paar woorde sê en dit maak my rustiger. Ek vertel dit nou want ek nooit in persoon gesê hoe baie daardie sonsak beteken het nie. Daar was aande hier in die huis dat wanneer ons gekuier het pappa altyd so uit die bloute uit ons net vashou en ‘n druk gee.
Ek het nooit vir pappa gesê dat wanneer ons so vir ‘n rukkie staan en ‘n drukkie gee dat ek intens na pappa se hart geluister het nie. Ek het geluister na hoe pappa se hart klop en in my hart gesê ek is lief vir pappa. En ander kere het ek dit hardop gesê. Ek koester hierdie memorie omdat dit soos die oomblik voel waar ek die naaste aan pappa was. Ek hoop pappa weet nou hoeveel elke drukkie beteken het en watse gewig dit dra want ek wens nou dat tyd daar kon stil staan.
Pappa het altyd met sekere situasies gesê dat die timing in was. “Die timing is in.” Ek dink elkeen van ons wat lief is vir pappa sal weet dat musiek een van ons elkeen se grootste koneksies was met pappa. Soveel so dat ek die aand virewig sal onthou waar ek en pappa op ‘n musiek avontuur gegaan het. Pappa met ‘n Olof in die hand en ek met ‘n Vat 69 en die kombuis blou gestook.
En ons sit oorkant mekaar by die kombuis tafel, wat effe vreemd was want pappa het altyd by die kop van die tafel gesit. Net daar het my les van goeie musiek verder gestrek as nog ooit toe pappa indelf in die musiek wat julle geluister het, van skool dae tot trou en ons kinders gekom het dae. Nou nog sal die liedjies opkom van daardie aand, en dit voel vir my dit is daardie aand se musiek, nie net “ou” musiek nie.
Want soos wat pappa vir ons musiek geleer het, so het pappa ook vir ons die geleentheid altyd gegee om na ons musiek ook te luister wat ons ontdek het. So gepraat van tyd en musiek het daar ook iets gebeur wat ek nooit vir pappa kon vertel nie. Ek het ‘n liedjie gekry wat ek dink pappa eenvoudig net sou love. En so in diep gevoel kon saam sing, soos wat pappa altyd die woorde beklemtoon het met sekere liedjies.
Ek dink wat meer sou uit staan is dat pappa ook sou saam stem met die liedjie. En dit het altyd meer gesê as wat dit net ‘n lekker tune was. ‘Waves’ van Imagine Dragons. Een waarheid van daardie liedjie:” Time doesn’t hear when you ask it to wait.” So ek deel die liedjie nou met pappa, en ek hoop pappa luister hom saam met my elke keer wanneer ek hom speel. Wat musiek ook aanbetref is daar nog ‘n liedjie, en pappa het hom vir ons kinders altyd gespeel.
Ek sal altyd sukkel om die liedjie deur te luister. Tom Walker se ‘Leave a Light On’. Met hierdie liedjie wil ek net dankie sê, want ek het nooit nie, so ek sê nou dankie dat pappa altyd daardie lig vir ons aan gelos het. Dankie dat ons altyd net die lig kon volg tot by pappa en tot by die huis. Hierdie liedjie sal virewig saam met my gaan en ek sal altyd aan die baie gesprekke dink wat ons gehad het wanneer hierdie liedjie gespeel het.
Pappa, daar is so baie wat ons nog moes deel en doen. Maar ek weet ek en pappa praat maar so deur die harte. Dankie vir soveel meer memories en oomblikke wat ons kon deel in 7884 dae wat te veel is om hierop in woorde om te sit. Ek sit van ons herhinneringe en persoonlike oomblikke in hierdie stuk, want ek glo die waardes en eienskappe selfs lesse wat ek by pappa gekry het leef ek elke dag uit en stel dit my bekend as “Dup se kind”.
Ek sien pappa in elke sonsak en wag geduldig vir dit om net nog mooier te word. Ek is lief vir pappa. Erika
Domkrag
DOMKRAG ‘n Huldeblyk aan Dup sal nooit volledig wees sonder Domkrag nie. Hy was so onlosmaaklik deel van ons lewe vir byna 30 jaar. Dit het so begin. In die verre verlede van 1999 was daar mos die groot y2k bangmaakstorie, al die rekenaars sou ophou werk en ons sou nie brandstof he nie, ens ens. Dup, die prepper wat hy was, het dadelik n plan gemaak met vervoer, hy sou n donkiekar bou! 2 Donkies se brandstof kos ook baie minder as n motorkar s’n!
Ons het op daardie stadium ‘n perd gehad met n blinde oog, en ou Safari, wat saam met ons by die meule gewerk het, het n donkietjie wat hy wou ruil vir die perdjie. So gesê, so gedaan en daar word die 3jarige Domkrag deel van ons du Plessis’s! Dup en Kas besluit die donkiekarretjie moet uitgetoets word en so word n tradisie gebore wat etlike jare sou voortduur: donkiekarrit deur die Kalahari met die eindbestemming Bray, waar die Bray July elke jaar gehou is.
Ek onthou nog hoe die driejarige Bianca gehuil het toe haar pa en oom op daardie karretjie op hulle tog vertrek het! Tranedal van formaat, maar later sou ons almal so lief vir Domkrag word. Geen ander donkie kon ooit by hom kers vashou in die tuig nie, n flukse, sterk werker wat meer gedoen het wanneer die ander een in die tuig laat slaplê het. So het Domkrag oral met ons saamgetrek, net nie Botswana toe nie. Ek dink dis hoekom Dup al die mishandelde donkies in Botswana wou red! Groot avonture en baie geleenthede het Donkrag help spesiaal maak.
Op menige kinderpartytjie is hy ingespan om die karretjie, of deur die straat, of deur die veld te trek. Troukar op Orania vir Hester en Christiaan, en ook 2 keer matriekafskeid toe! Na sy aftrede was hy ook ‘n keer of wat by die kerkbasaar op Lichtenburg! So beland Domkrag uiteindelik by Johan Joubert op sy plasie. “As hy te oud word, of siek, laat weet my tog, ek sal self kom plan maak”, sê Dup. En toe, op die Dinsdag voor sy dood, ry Dup en Frikkie by Johan Joubert se plasie verby. Sy oë soek, maar hy sien nie vir Domkrag nie… Hy is nie meer nie.
Daardie volgende oggend omstreke 4h30 sterf Dup aan n hartaanval…. Dankie Bok vir al die kere wat jy harder moes werk as ek in die tuig, as ek nie my kant kon bring nie. Jy was die sagmoedige, nederige mens wat die Bybel van praat, maar ook Donkiekardrywer, Mensehelper, Dieselmasjienregmaker, Planmaker, Kind-aan-die-slaapmaker, loslitdanser en deurnagger, diep-diep denker en sommer net ‘n lekker mens, wat ook maar sy foute en skerp kante gehad het.
So het Leanne geskryf: Dup…. What can I say?? So sad knowing I won’t see you again in this lifetime. Even though I only knew you for a short time, I’m ever so grateful for knowing you. So many awesome memories. I’m pretty sure they broke the mould when they made you… Probably just as well!! Trying to keep up with your love for life.. and family. Your passion for what matters to you…your faith and your huge heart when it comes to helping others and your amazing zest for laughter and fun was hard to keep up with.
No matter what life dealt you, you would get up… brush yourself off… curse in Afrikaans… and then smile. Never letting the bastards get to you! So many memories …. You were happiest when you were surrounded by your family… Drinking…eating and listening to music (didn’d matter if it was the latest hip hop song… you knew it word for word). You loved to dance. It was always so beautiful watching you waltz and getting down with the moves with your kids and Marina to the latest tunes! You loved “discussions”… Always respectful to others but hugely passionate about what you believed in.
No matter how serious our chats were, you loved throwing in a little bit of bullshit … just to keep me on my tows! Always with a cheeky smile and that little sparkle in your eye! I can’t help but smile when I think of you. See you on the flip side Dup!


Donkiekar-Avontuur op My 8ste Verjaarsdag
Die storie van my 8ste verjaarsdagpartytjie Deur Bianca Beukes Ek onthou dit was my 8ste verjaarsdag, want vir my 7de verjaarsdag het ek ‘n tikprogram by my ouers gekry, “vinnige vingers”. En vir daardie jaar het ek my besig gehou met die program. Seker daaroor dat my pa besluit het om vir my en my maats te vat vir ‘n donkiekar-draai deur die dorp vir my 8ste verjaarsdag. Die maats was opgewonde. Ek was ook! Ons Du Plessis’s ken al van die donkiekar.
Ons weet ook hoe die donkies is. Donmkrag, sterk en enig in sy soort, hy hoef amper nooit sweep te gekry het nie. Sterk, sy ore het altyd geluister. Hy was soet ook. En mooi. Dan was daar Blouman. Blouman was lui, sy ore was toe. Hy het so baie sweep gekry dat Pappa se sweep al hoe korter geword het. Die karretjie was redelik vol gelaai met ons 5 Du Plessis’s en al my maats. Bibi, Marli, Frederik en Joos.In graad 2 was sy naam Joos, deesdae Joost.
Tyd verander baie dinge. Mens se naam kan ook verander. Domkrag het met die jare Dommie geword, en Blouman het met die jare weggeraak. Die donkies moes maar altyd saam trek. Ons was arm. Daar was nie geld vir ‘n beter donkie nie. Ons het ons lot aanvaar en ons is toe oor die groot pad met die donkiekar. My pa se Geduld was altyd genoeg om te wag vir daai mossie wat Tafelberg met sy snawel kon plat skuur, maar party dae het hy gesê: “My muur het omgeval” Dan het ons geweet, sy Geduld kon nou net tot daar gaan.
En van daar af hou jy jou mond en jy staan stil. Die muur sal vanself val en Pappa sal na die tyd weer met geduld vir die mossie wag. Daardie dag was Niemand van ons bewus van die muur se stand nie. Nou dat ek terugdink, kon dit dalk wees oor die skool se wasbak wat hy moes regmaak vroeër die dag, plus die pomp by die werk en dan nou nog die donkies inspan en almal gelukkig hou. Hy was so goed daarin. Net anderkant die pad begin Bouman met sy streke.Die kettings hang slap langs hom. Hy moet vinniger draf anders ry die karretjie bo-oor hom.
My Pa praat mooi met hom “Kom nou Blouman, kyk waar sleep jou kettings!” Hy gee hom ‘n hou met sy kort sweep. Ons kinders is in ‘n opgewonde borrelende fees. Dis lekker. Die muur… Die volgende sweephou val, maar nee Blouman steur hom niks aan Pappa Dup nie. En daar val die muur… Die kort sweep word omgedraai. “Vat so Sussie” sê hy vir my terwyl hy die teuels aangee vir my. Ek weet in my kop ek moet net vashou.
My Pa was nou moeg vir Blouman se jare afskeep en doofgeit en stout wees. Ek weet nou nog nie hoe of hoekom nie, maar my Pa druk daardie stok van die sweep binne-in Blouman se poephol in! Meteens sien ek die kettings styf trek. En die kettings en Blouman se stert hou kompetisie oor wie die styfste is! Sy ore trek plat en ek dink toe by myself “ Ooo dis waar die donkie se turbo is!” Asof die skielike wegtrek en pluk van die karretjie saam met ons nuwe spoed nie genoeg was nie, was ons ook met lekker warm mis gestrooi, komplimente van Blouman.
Na ‘n klomp geskree en skaterlag, het my Pa sie donkies onder beheer gehad. Glo dit of nie, Blouman was amper so goed soos Domkrag daardie een draai wat ons gery het. Dit was ook seker die enigste dag wat Dommie bietjie kon rus met sy kettings, want ou Blouman het toe voor gevat vir so 100meter. Op pad terug het ons gestop om my Pa se sweep op te tel, aan die sweep kant. Dit was ‘n lekker daggie. En een van die baie dinge wat ek altyd van my Pa sal onthou, is dat hy altyd die eenvoudige dinge van die lewe na buitengewone avonture kon verander.
Timeline
Family Tree
Tributes

Insert HTML text here.














































































Leave a Reply